Tot ambulanse word besteel

Ambulansdienste ondervind al hoe meer probleme met die steel van toerusting op tonele uit hul voertuie.

Verskeie ambulansdienste moes die afgelope twee jaar duisende rande opdok om mediese toerusting te vervang wat deur omstanders, wegsleepdienste en selfs ander ambulansdienste uit hul noodvoertuie gesteel is.

“Die finansiële implikasie van dié diefstal is baie groot,” het Xander Loubser van die Best Care-ambulansdiens gesê.

Dié ambulansdiens het die afgelope twee jaar vier polsslagmeters, ’n suurstofsilinder en ’n elektrokardiogram-masjien só verloor.

Dit het die ambulansdiens meer as R60 000 gekos om dié toerusting te vervang. Boonop kan ons nie pasiënte behoorlik behandel as ons die toerusting nie op ’n toneel het nie,” het Loubser gesê.

Volgens hom is dit vir Best Care baie moeilik om hul toerusting tydens ’n toneel te beveilig.

Frikkie Gous, woordvoerder van Life Med-ambulansdiens, het gesê dit is onmoontlik om heeltyd oor die toerusting te waak wanneer hulle ’n pasiënt op ’n toneel behandel.

“Die paramedici se hoofprioriteit lê by die pasiënt en die beveiliging van die toneel. Dit skep die geleentheid vir mense om rond te krap.”

n Bloedglukose- en elektrodardiogram-masjien, sowel as ’n hartmonitor en ’n paramedikus se sak met mediese toerusting ter waarde van R8 000, is al uit hul ambulanse gesteel.

Die sak is gelukkig langs ’n treinspoor in Gezina, Pretoria, gevind en aan ons terugbesorg. ’n EKG-masjien is egter baie duur om te vervang. ’n Goedkoop een sal jou R36 000 kos,” het Gous gesê.

Hugo Minnaar, eienaar van die ambulansdiens International Medical Services, het beaam dat die diefstal van toerusting vir alle ambulansdienste ’n probleem is.

Diewe het al ons ambulans se sleutel uit die aansitter gesteel,” het Minnaar gesê.

“Dis ’n probleem, want ons kon net sowel ’n pasiënt dringend moes vervoer het.”

Volgens Minnaar is ’n paramedikus se mediese sak ook onlangs deur ’n wegsleepdiens op ’n ongelukstoneel gesteel.

“Ons kon gelukkig daarin slaag om die sak, met toerusting ter waarde van R10 000, in die skuldige se motor op te spoor.”