Toordokters aas aasvoëls

Sewe-en-dertig vergiftigde witrugaasvoëls se karkasse is deur veldwagters van die Hluhluwe-iMfolozi-natuurreservaat en Ezemvelo verlede week ontdek. Van die 37 karkasse was 29 se koppe verwyder.

Dit laat die vermoede bestaan dat die aasvoëls dood­gemaak is vir moetie, het ­André Botha, bestuurder van die aasvoëlprogram by die Trust vir Bedreigde Natuur­lewe (EWT), gesê.

Hy vermoed dat mense gif in ’n olifantkarkas gesit het.

Die olifant is ’n paar weke gelede vermoedelik aan natuurlike oorsake dood en die karkas het naby een van die grensdrade van die natuurreservaat gelê waar mense dit duidelik kon sien.

Volgens Botha is dit ’n geweldige terugslag vir witrug- aasvoëls omdat hulle ernstig bedreig word.

Ezemvelo KZN het in ’n verklaring gesê van die aasvoëls wat uitgeken kon word, was 3 volwasse voëls, 9 subvolwassenes en 17 was jonk.

Die ouderdom van agt kon nie bepaal word nie omdat hulle al erg ontbind het.

Dr. Dave Druce, ekoloog van die Hluhluwe-iMfolozi-park, het gesê hierdie verlies gaan beslis ’n negatiewe uitwerking hê op die toekomstige broei­potensiaal van witrugaasvoëls in Zoeloeland aangesien die dood van die volwassenes in die huidige broeiseisoen beteken dat ’n bykomende aantal kuikens op neste sal doodgaan.

Ezemvelo KZN het in ’n verklaring gesê dié organisasie beskou hierdie voorval in ’n baie ernstige lig en het saam met die polisie ’n strafregtelike klag aanhangig gemaak.

Van die karkasse sal deur toksikoloë ondersoek word sodat vasgestel kan word watter soort gif gebruik is.

Die olifant se tande is deur die bestuur van die park verwyder en word bewaar.