Toe is wolf skaapwagter

Brig.genl. Winnie Bobelo, stafhoof van die weermag se afdeling vir gesamentlike operasies in die weermag is pas aangestel as hoof van ’n ondersoek na beweerde finansiële onreëlmatighede met die toekenning van huurvlugkontrakte, maar dit het nou uitgekom dat sy staan self tereg op aanklag van beweerde finansiële vergrype.

Bobelo was onlangs in die nuus toe haar man, kol. Nceba Bobelo, hom aan die polisie oorgegee het nadat hy jare lank op duistere wyse tronkstraf vir ’n gewapende rooftog vrygespring het.

Hy is sowat ’n maand gelede opgesluit.

Kapt. Zama Sithole, woordvoerder oor gesament­like operasies, het bevestig dat sy aangekla is. Die saak word deur die militêre polisie se spesiale ondersoekafdeling ondersoek.

Daar word beweer dat sy sonder magtiging meer as R700 000 se verbeteringe aan die militêre huis waarin sy in Thaba Tshwane woon, aangebring het.

Maar volgens Sithole bly sy in haar pos en het sy bepaalde take waarvoor sy verantwoordelik is – onder meer finansiële delegasie van alle aankope en besteding in die afdeling.

Regskenners in die weermag is  verstom en sê dit ongehoord en onverantwoordelik om iemand wat van vergrype verdink word, in beheer van miljoene rande se staatsgeld te laat. Die weermag se riglyne bepaal dat so ’n soldaat se delegasie onmiddellik teruggetrek word tot die ondersoek afgehandel is.

Een van Bobelo se take is dat sy moet met die raad van ondersoek vasstel hoekom bepaalde kontrakteurs die kontrakte gekry het vir sekere huurvlugte vir die vervoer van soldate en toerusting na ‘n vredesontplooiing tydens die Slag van Bangui vroeër vanjaar.

Daar heers steeds vrae oor die toekenning van die kontrakte ná klagtes dat van die kontrakteurs nie die nodige vliegtuie beskikbaar kon stel om lewensnoodsaaklike pantservoertuie en wapens na Suid-Afrikaanse soldate in die Sentraal-Afrikaanse Republiek te neem nie.

Foto – Brig.genl. Winnie Bobelo