Tesourie en Lugdiens twis

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se finansiële chaos is vererger deur die maande lange gestry met die Tesourie oor geldelike bystand.

Indien die Tesourie nie vinnig gaan help om SAL uit sy verknorsing te red nie, gaan die redery waarskynlik sy deure moet sluit.

Vanweë  die gestry tussen die twee partye, is die Lugdiens se jaarstate glo nog nie opgestel nie en derhalwe kan ’n Algemene Jaarvergadering nie gehou word nie.

Die SAL boekjaar  eindig 31 Maart, en die spertyd vir ’n Algemene Jaarvergadering is 30 September.

’n Woordvoerder beweer dat daar nog ’n aantal oudit-sake is wat afgehandel moet word voor die Jaarvergadering gehou kan word.

Na wat verneem word, is die Lugdiens se verlies aansienlik meer as R1 miljard, wat blykbaar beteken die SAL is bankrot, veral as in gedagte gehou word dat die vorige boekjaar se verlies ook meer as ’n Miljard Rand was.

In 2012 is ’n R5 miljard staatswaarborg ter ondersteuning aan die Lugdiens beskikbaar gestel, waarteen SAL geld kon gaan leen, en die waarborg eindig binne ’n jaar.

Kenners meen dat as die regime nie hul finansiële ondersteuning gaan volhou nie, kan dit beteken dat SAL sy deure moet sluit.

Die Tesourie se woordvoerder, ene Phumza Macanda, sê dat SAL wel aansoek gedoen het om die huidige waarborg te verleng, maar dat dit nog in oorweging is.