Tegniese regulasies beskerm nie waterbronne

Prof. Gerrit van Tonder, geohidroloog aan die Universiteit van die Vrystaat se Instituut vir Grondwaterstudies, sê die regulasies wat op 15 Oktober in die Staatskoerant gepubliseer is, is wat monitering betref, nie streng genoeg met gasmaatskappye nie.

Van Tonder sê dat nêrens in die regulasies word voorgeskryf dat die publiek ingelig moet word oor die chemikalieë wat in die hidrobrekingsproses gebruik word nie.

Daar is ook nie sprake van ’n trustfonds vir omgewingsrehabilitasie vir elke boorperseel sodat daar genoeg geld is om probleme te help oplos as grondwater later besoedel word nie.

Eienaars van boorgate sal eers van besoedeling bewus raak as dit te laat is.

Die bedryfsdirekteur van die organisasie Treasure the Karoo Action Group (TKAG), Jeanie le Roux, wat gekant is teen hidrobreking in die Karoo, sê die meeste van die tegniese vereistes is geknip-en-plak uit riglyne van die Amerikaanse Petroleum Instituut, ’n bedryfsliggaam in Amerika wat die olie- en gasbedryf verteenwoordig, en dus kommersiële belange het.

Le Roux en Van Tonder is dit eens dat Amerikaanse riglyne nie net so op die Karoo toegepas kan word nie.

Sy sê dat toe Soekor in die ’60’s naby Jansenville in die Oos-Kaap tot ‘n diepte van 2,500 m geboor het en toe drukking verloor het, het van die boorvloeistof ses weke later uit ‘n fontein op ‘n plaas 35 km daarvandaan geloop.

Le Roux het gewaarsku dat Suid-Afrika nie oor die vaardighede en toerusting beskik om die nodige monitering te doen nie. Net Amerika en Kanada het die toerusting wat die verskil kan vasstel tussen metaangas wat natuurlik in water of naby die grondoppervlak voorkom en gas wat van diep onder die grond uit skalierots ontsnap het.

‘n Woordvoerder van Shell, Dineo Pooe, sê die maatskappy bestudeer die besonderhede van die regulasies en die impak wat dit op sy eksplorasie geleenthede in Suid-Afrika kan hê.

Sy het nie bevestig of Shell formeel kommentaar gaan lewer nie.