Stakende plaaswerkers afgedank

J le Roux-boerdery se woordvoerder, Gerrit de Beer, sê hulle het meer as ’n 100 stakende werkers afgedank.

Die werkers het ’n ultimatum gekry van hul werkgewer om onverwyld terug te keer na hulle werk, en toe dit nie gebeur nie, is hulle summier afgedank.

Die werkers, waarvan ’n groot deel seisoenwerk verrig, het op plase in die Paarl, Wellington en Piketberg, het begin staak omdat hulle ontevrede is oor die diensvoorwaardes en aftrekkings wat gemaak word.

J le Roux-boerdery het ’n hofbevel verkry wat die staking onbeskermd verklaar het.

De Beer het gesê die werkers het ’n keuse gehad, en die afdanking is as gevolg van hulle eie besluit. Die werkers het hulle ook skuldig gemaak aan gewelddadigheid, wat daartoe bygedra het dat hulle afgedank is.

’n Aantal werkers het self bedank.

Past. Nosey Pieterse, sekretaris-generaal van die plaaswerkers se vakbond Bawusa, sê hulle gaan die hof nader om die afgedanktes te help.

Kenners meen Bawusa is besig om sy eie graf te grawe, deur werkers aan te hits tot stakings. Die afgedankte werkers verkwalik dan die vakbond omdat hulle sonder werk sit terwyl die boer ongehinderd ander werkers aanstel teen dieselfde voorwaardes.