Spioenasieverslae is geheim.

Die Departement van Staatsveiligheid weier om navrae te beantwoord oor of die parlementêre oorsig-komitee oor die land se spioenasiedienste sy jaarverslae ingehandig het soos die wet vereis.

Die Wet op Intelligensie-oorsig vereis dat die parlementêre gesamentlike staande komitee oor intelligensie jaarliks sy oorsigverslag by die parlement, die presidensie en die Minister vir Staatsveiligheid moet indien.

Dié verslae, wat in praktyk die enigste oorsig is wat belastingbetalers het oor wat met die miljarde Rand gebeur wat jaarliks aan die spioenasiedienste oorbetaal word, is reeds sedert 2010-’11 nie aan die parlement voorgelê nie.

Verskeie pogings om by Cecil Burgess, ANC-LP en voorsitter van die gesamentlike staande komitee, uit te vind of hy wel die verslae ingedien het soos die wet vereis, is deur Burgess gesystap.

Hy het gesê hy moet eers die ander lede van die staande komitee raadpleeg om te besluit wat hy kan antwoord, want "hy praat gewoonlik nie met die media nie."

Intussen sal parlementêre vrae aan die Minister van Staatsveiligheid, dr. Siyabonga Cwele, en pres, Jacob Zuma gestel word, om vas te stel of hulle persoonlik enige verslae van die gesamentlike staande komitee ontvang het.

Dit is baie moeilik om skriftelike parlementêre vrae te ontwyk sonder om daarvoor gestraf te word.

Foto –  Siyabonga Cwele