So word dinge verdraai

Vyf mans wat van poging tot moord aangekla is nadat hulle glo twee mense gedurende ’n sakerooftog gewond het, is slegs aan sogenaamde sake-roof skuldig bevind.

Hulle is in die Alexandra-streekhof elk tot 18 jaar tronkstraf gevonnis.

Morgan Masilo (37), Raymond Sedibane (22), Reuben Khemi (22), Roderick Nyathi (22) en sy broer Israel (20), het die Plantland-kwekery in Kyalami in November 2011 beroof.

Salomé Stoman, die voormalige bestuurder van die kwekery, en Ryno Davel, destyds assistent-bestuurder, is onderskeidelik in die kop en arm met ’n mes gesteek.

Landdros Renier Boshoff het gesê niemand is aan poging tot moord skuldig bevind nie, want dit is onduidelik of die aanvalle op Stoman en Davel vooraf beplan was en wie hulle gesteek het.

Gareth Newham, hoof van die Instituut vir Sekerheidstudie (ISS) se program vir misdaad en geregtigheid, het glo gesê aanranding met die doel om ernstig te beseer, sou gewoonlik ’n alternatiewe klag wees, sou die klag van poging tot moord nie bewys kon word nie.

“Die staat hoef nie noodwendig te bewys wie het die slagoffers gesteek nie en kon aanvoer die mans het met ’n gemeenskaplike doel opgetree.”

Newham was nie by die hofsaak betrokke nie en kon nie sê of die polisie of staat moontlik verbrou het nie.

Stoman (40) het buite die hof gesê hoewel ’n mens die misdaad nie kan goedpraat nie, vergewe sy die mans.

Sy is in die regterkant van haar gesig, net voor die oor, gesteek. Die slagaar wat na die brein lei, is afgesny. Sy het weens inwendige bloeding en breinswelling ’n beroerte gekry. Dit het verlamming aan die regterkant van Stoman se gesig, sowel as van haar tong, stemband, linkerarm en -hand veroorsaak.

Sy was sewe dae in ’n semi-koma en daarna nog 11 dae in die hoësorgeenheid.