Snowden wil vir Duitsland getuig

Die Kremlin wat vir die fluitjieblaser Edward Snowden asiel in Rusland gegee het, beskou sy aanbod van hulp aan die Duitse parlementêre ondersoek insake die afluistering van Kansellier Merkel se telefone, nie as ‘n verbreking van sy belofte om nie Amerikaanse belange te benadeel nie.

Die Withuis hou egter vol dat Snowden se aanbod Amerikaanse belange benadeel. Washington beweer ook dat Snowden steeds in kontak met joernaliste is en hulle van inligting voorsien.

Hierdie beskuldigings is deur die presidensiële segsman, Dmitry Peskov, verwerp wat gesê het dat "niemand sal toelaat dat Snowden sy belofte verbreek nie." Hy het bygevoeg dat Snowden wettig in Rusland is en dat dit hom vry staan om met enigiemand te assosieer.

Die Duitsers is steeds besig met hulle ondersoek na die onwettige afluistering deur die Amerikaanse geheime diens. Snowden mag as ‘n sleutelgetuie help en mag selfs persoonlik getuig indien Berlyn kan waarborg dat hy nie gearresteer en na Amerika gedeporteer sal word nie.

Verskeie Duitse amptenare, ingeslote die Minister van Binnelandse Sake, Hans-Peter Friedrich, het gesê dit sal die ondersoek help as Snowden in Duitsland is.

Dit sal egter problematies wees, want Snowden se tydelike status as ‘n asielsoeker in Rusland, laat nie toe dat hy die land kan verlaat nie, het sy Russiese prokureur Anatoly Kucherena gesê.

Snowden sal aansoek vir asiel in Duitsland moet doen as hy daarnatoe wil gaan; veilige deurgang is nie genoeg nie.

Boonop wys kenners daarop dat die VSA daarin geslaag het om sy Europese bondgenote sover te kry om hulle lugruim te sluit net omdat die Amerikaners onder die suspisie was dat Snowden aanboord van die Boliviese president se vliegtuig was.