Slawerny

Daar lê alweer ‘n arbeidskrisis van Oliphantsproporsies en loer op die land se horison.  Wel…’n krisis vir sommige dalk. Mildadige Mildred, die Sinister van arbeid reken sy doen huiswerkers ‘n reuse guns om hulle aan  te moedig om te organiseer om te beding vir hoër lone en voordele.

Liesbet moet nou al die werkers in die straat…ek bedoel die straatwerkers…ek bedoel die huiswerkers van die straat se huise bymekaarmaak en ledegeld invorder wat sy onder haar kopdoek kan bewaar sodat sy ‘n mandaat het om namens al haar kollegas te beding vir onmoontlike voordele en onbetaalbare lone wat onvermydelik tot hul almal se ontslag sal lei!

Dit is wel nie vir almal ‘n krisis nie want soos dit is weet die dertienjarige vet Frikkie nie hoe om sy bed op te maak nie. Liesbet moet sy klere vir hom uithaal en sy skoene reg neersit omdat hy nie weet watter een aan watter voet kom nie.

Met ontbyt moet sy vir hom eers sy worsies sagkou voor sy sensitiewe gestel dit kan verwerk. Sy moet egter vinnig kou, want sodra mamma ry om Frikkike eers om die blok by die skool af te laai en dan werk toe te gaan moet sy Frikkie se babasussie se neus teen haar rug vaskokon sodat sy die ontwikkeling van Baba Katinka se periferale visie kan verongeluk al die pad spar toe en terug.

By die skool moet Frikkie eers getroos word want hy voel sleg en verlang na Liesbet want sy maak die termometer darem onder haar  kieliebak warm sodat hy dit nie so koud in sy mond hoef te sit nie! Boonop sukkel hy met Afrikaans en engels want sy eerste taal is zoeloe! Ja, ons volk se kinders word deur huiswerkers grootgemaak en dan is die ouers geskok as Frikkie verlief raak op Liesbet se dogter (of seun)! Ouma word in ‘n koshuis gebêre,maar ‘n kamer word vir Liesbet ingerig sodat sy kan inwoon!

Die minister doen die volk ‘n groot guns deur ons te dwing om ons te rehabilliteer van ons verslawing aan volksvreemdes. Niemand snuif aan, lek of pruim vir Liesbet nie, maar soveel van ons mense kan maar nie sonder haar lewe nie!

Slawerny is afgeskaf, maar nie verslawing nie!

Tot volgende slag

Die Sweep