Skatte ontdek

’n Skatkis van moderne kuns waarop die Nazi’s tydens die Tweede Wêreldoorlog beslag gelê het, is  in ’n woonstel in München onder hope verrottende groente ontdek.

Volgens die Duitse tydskrif Focus is 1,500 kunswerke van bekendes soos Picasso, Matisse en Chagall, wat al langer as 70 jaar vermis is, reeds in 2011 ontdek.

Dis dalk heelwat meer as €1 miljard (R13,68 miljard) werd.

Niemand het egter ’n woord gerep oor waarom die toevallige ontdekking deur doeanebeamptes nou eers bekend gemaak is nie, aldus Focus.

Beierse amptenare het geweier om kommentaar te lewer.

Volgens Focus is kenners nou besig om die skilderye, afdrukke en sketse – wat in ’n doeanepakhuis geberg word – te waardeer en eienaarskap te probeer vasstel.

Sommige van die werke was dalk eens deel van uitstallings in Duitse museums wat sedert 1937 verskuif is omdat Hitler se Derde Ryk hulle as degenererend beskou het, terwyl beslag op ander gelê is, of hulle onder dwang vir kleingeld deur agtervolgde Joodse versamelaars verkoop is.

Doeanebeamptes het dié sensasionale vonds in 2011 gemaak nadat ’n 76-jarige man wat per trein van Zürich na München gereis het, ondervra is omdat hy ’n baie groot bedrag kontant by hom gehad het.

Die man was Cornelius Gurlitt, seun van die kunshandelaar Hildebrand Gurlitt – ’n vroeg 20ste eeuse spesialis in moderne kuns wat deur die Nazi’s as on-Duits verklaar is.

Die Nazi-propagandaminister Joseph Goebbels het hom gewerf om die “degenererende kuns” in die buiteland te probeer verkoop om geld vir die staat te in. Ná die oorlog het Gurlitt die Amerikaners probeer oorreed dat hy ook vervolg is omdat hy ’n Joodse ouma gehad het.

Sy kluisenaarseun het so af en toe ’n kunswerk verkoop en op die inkomste geleef.