Siektes dalk geneties gedokter

 ’n Nuwe tegniek wat siek mense se genetiese samestelling kan redigeer, is onlangs voorgestel nadat die eerste werk daaroor sukses in aap- en muisselle behaal het.

Dié tegniek word in die vaktydskrif Nature Biotechnologies beskryf en staan bekend as Crispr (Clustered Regularly Interspaced Short Palindromic Repeats).

Dit teiken spesifieke “foutiewe” geenreekse om hulle te verander, af te skakel of uit te sny, sonder om weer ’n genetiese fout te maak.

Die bedoeling is om selfs virusse, soos MIV/vigs, te verwyder, asook kanker en oorerflike genetiese siektes – mits die geenreekse daarvan bekend is.

Volgens ’n berig in die The Independent sal dit ook gebruik kan word om genetiese defekte in embrio’s te herstel wat vir invitro-bevrugting gebruik word.

Crispr is geïdentifiseer as ’n natuurlike immuniteitsreaksie wat deur bakterieë gebruik word teen virusse wat hulle aanval.

Verlede jaar het prof. Jennifer Doudba van die Universiteit van Berkeley gewys dat Crispr gebruik kan word om enige plek op die genoom (die hele genetiese samestelling) te teiken met ’n ensiem (CAS9) wat deur DNS kan sny, het The Independent berig.

Prof. Soraya Bardien-Kruger van die eenheid vir molekulêre biologie en menslike genetika aan die Universiteit Stellenbosch het by navraag gesê die tegnieke is in die vroeë fase van navorsing.

Baie werk moet nog gedoen word voordat dit klinies in mense getoets kan word, soos om moontlike negatiewe effekte te identifiseer.

Indien dít egter gedoen is, hou dit opwindende moontlikhede in vir terapeutiese gebruik vir enige genetiese siekte. Daar is kommer dat Crispr vir eugenetika gebruik sal word eerder as vir die kuur van siektes.

Dus behoort ’n behoorlike debat hieroor gevoer te word om seker te maak dit word eties aangewend, het Bardien-Kruger gesê.

Prof. Anton van Niekerk, direkteur van die Sentrum vir Toegepaste Etiek aan die Universiteit Stellenbosch, het gesê al is daar nog min inligting bekend, wil dit voorkom of Crispr ongekende moontlikhede inhou en ’n verstommende bydrae tot die verligting van lyding kan lewer.

“Die basiese morele vraag om te beantwoord is of hierdie nuwe tegnologie veilig is, of dit nie ongewenste newe-effekte het nie en of dit menslike welsyn daadwerklik kan bevorder.”

“As die antwoord op laasgenoemde vraag onomwonde positief is, is dit ’n ontwikkeling wat wyd verwelkom behoort te word, mits dit verantwoordbaar en verantwoordelik aangewend word.”

“Dit bevestig die vermoede dat ontwikkelings in die biotegnologie die belofte inhou van waarskynlik die mees ongekende wetenskaplike en mediese revolusies wat in ons wêreld op hande is,” het hy gesê.

Foto – prof. Jennifer Doudba