Seun red gesin

Stephan van der Merwe, het in ’n oomblik van nood, die regte optrede gevolg en sy gesin se lewens gered van ’n aaklige dood toe hulle huis tot op die grond afgebrand het.

Stephan is in gr. 11 en verbonde aan die Hoërskool Sand du Plessis, en het wakker geword in die omgewing van 12 uur die nag weens die hitte van ’n brandende lapa, want sy kamer is die naaste daaraan.

Toe hy die vlamme sien, het hy dadelik sy ouers gaan wakker maak, en daarna sy twee sussies.

Die hele gesin kon vinnig  verby die vlamme in die sitkamer na die voordeur beweeg en veilig uit die brandende huis ontsnap.

Dié egpaar kon daarna beide voertuie en hul eie kragopwekker verwyder uit die motorhuis.

Die oorsaak van die skielike brand word ondersoek.