Ses vas oor ontvoerings

Ses mense, onder wie drie polisiebeamptes, is in die Maputo-stadshof in Mosambiek skuldig bevind aan die ontvoering van sakelui en hulle familielede in die stad.

Hulle het ondermeer met vals lasbriewe, niksvermoedende sakemanne in die stad ontvoer en lospryse vir hulle vrylating geëis.

Die ontvoering van prominente sakelui en veral hul kinders en familielede het die afgelope paar maande in Mosambiek toegeneem.

Volgens ‘n Suid-Afrikaner wat reeds etlike jare in Mosambiek werksaam is, is dit sindikate wat mense, veral van Asiese herkoms, teiken.

"Saam met die amok wat Renamo se volgelinge in die noorde van die land aanstook en ‘n massiewe misdaadprobleem in Maputo en die buitewyke, maak dit dat Mosambiek nie meer die lekker plek is om in te bly en te werk nie," het hy gesê.

Volgens hom is ‘n paar bendes of sindikate aktief in die hoofstad. Boonop is die polisie nie baie doeltreffend om misdaad aan bande te lê nie.