Sanger se droom na dood werklikheid

Volgens die weduwee van die sanger Zak van Niekerk is sy droom om ‘n plaas vir hulle twee seuntjies te hê, nou bewaarheid, al moes die saak eers ’n draai in die Vrystaatse Hoogeregshof maak. 

Die koopkontrak vir die plaas Uitstoot van 171ha by Excelsior is gister ná ’n skikking deur regter Johann Daffue ’n bevel van die hof gemaak.

Van Niekerk se weduwee, Sonja (31), sê sy gaan die plaashuis nou verder herstel en beveilig. Sy oorweeg dit om na Bloemfontein te verhuis en naweke op die plaas te gaan deurbring.

Die verkoper, Petro Heyns van Excelsior, het aangevoer dat die koopkontrak tussen haar en Zak se beslote korporasie, Summerlane Trading 391, einde 2009 was nie die papier werd waarop dit gedruk is nie. Volgens haar het sy die plaas vir R750,000 verkoop; maar toe sy by haar prokureur, Cobus le Roux, kom om te teken, was die bedrag R700,000.

Sy het dit met die hand na R750,000 verander.

Intussen is die bedrag weer na R700,000 verander. Le Roux is intussen dood.

Zak en Sonja het sedert April 2010 tot November 2011 op die plaas gewoon. ’n Prokureursbrief om die plaas te verlaat omdat die verkoper ontevrede was met die kontrak het hulle laat terugtrek na Hartbeespoort.

Zak (33) is ‘n maand en ‘n half voor sy jongste seuntjie Zian se geboorte in ‘n motorongeluk by Sasolburg dood. Sonja woon steeds op Hartbeespoort en doen besprekings vir kunstenaars vir konserte. Verder het sy ook ander sakeondernemings.

Sy het gister ’n nuwe koopkontrak geteken en die plaas vir R930,000 gekoop, wat ook huur insluit vir die tyd wat hulle daar gewoon het.