Sandton is nie Suid-Afrika nie

Suid-Afrikaners moet nie dink dat as hulle in woonbuurte soos Sandton woon, die hele land is soos sulke woonbuurte nie.

Dit was die uitspraak van Pravin Gordhan, Minister van Finansies.

“Suid-Afrikaners het dikwels die snaakse manier om realiteite en werklikhede te ontduik, soos om hulleself te mislei dat die hele wêreld soos Sandton is, bloot omdat hulle in Sandton woon.”

Gordhan het by die Nelson Mandela-stigting in Johannesburg gepraat en sy mening gelig na aanleiding van Goldman Sachs se bekende verslag met die titel “Twee dekades van vryheid” waarin gewys word op die vordering, sowel as op tekortkominge van die regering sedert 1994, en dat daar nog “groot werk” wag wat gedoen moet word.

“Ons kan nie net vasgevang wees in wat ék kan kry en watter motor ék kan ry en watter huis ék kan koop nie,” het hy gesê.