Rou riool oorstroom huis

Michiel Reynecke (32) van Bloemfontein beplan regstappe teen die metromunisipaliteit nadat sy huis deur rou riool oorstroom is weens ’n verstopte afvoerpyp buite die erf.

Weens dié verstopte pyp het Reynecke se toilet oorstroom en het die rou riool deur die hele huis gevloei.

Volgens hom het hy na verskeie oproepe na die munisipaliteit se 24 uur-hulplyn om die verstopte pyp te rapporteer, tou opgegooi en die hulp van ’n private onderneming ingeroep om die verstopte pyp te herstel.

Reynecke sê hy beplan om ‘n eis teen die munisipaliteit in te stel want hulle sê hulle is 24 uur beskikbaar, maar beantwoord nie die telefoon as inwoners hulp nodig het nie.

Boonop is van sy meubels onherstelbaar beskadig. 

Hy en sy gesin moes ook inderhaas by vriende oornag, omdat die stank ondraaglik was. Hoewel hy en sy vrou, Elize hard besig was om weer hulle huis skoon te maak, twyfel hy of hulle binnekort sal kan teruggaan.

Volgens hom veroorsaak die hitte dat die stank onuithoudbaar is.