Regering ken korrupsie

Die regering weet van korrupsie, hulle beveg korrupsie – hulle is nie korrup nie.

So sê pres. Jacob Zuma aan "die wat net sleg praat van die regering, want praat is mos verniet."

Zuma was een van die sprekers by die Nasionle Raad van Provinsies se byeenkomste in die Giant-stadion in Soshanguwe as deel van die raad se veldtog "om die parlement na die mense te bring."

Dennis Bloem, Cope LP en oud-ANC-LP, was in al die ANC-sprekers se visier, selfs Zuma s’n. Bloem het uitgevaar teen die regering en gesê mense is moeg vir nepotisme en korrupsie. "Julle dink net aan julself," het hy gesê.

Zuma het in sy repliek gesê daar kan nie gesê word dat die regering korrup is nie. "Die mense wat sulke opmerkings maak, is nie in die regering nie …. en ongelukkig ken ons hulle," het hy giggelend gesê.

Volgens Zuma is werkloosheid en armoede en misdaad steeds probleme, maar die regering het dit die afgelope 19 jaar getakel. Meer as 14 miljoen mense in die land het werk, daar is tans meer as 52 miljoen mense in die land.