R9 miljoen se regskoste!

Pres. Jacob Zuma se regskoste wat bykans R9 miljoen beloop, is hoofsaaklik vir die rekening van sy “buitengewone adviseur” se firma, Hulley & Associates.

Die nuus is deur die Departement van Justisie bevestig.

Talle halwe waarhede, misleidende gegewens en klaarblyklike moedswillige optrede is blykbaar verantwoordelik daarvoor dat die bedrae aanvanklik verskil het van die werklike uitgawes vir regskoste.

Die vraag het ontstaan of Michael Hulley, wat Zuma in regsake hanteer, al die geld ontvang het wat uitbetaal is aan regskoste.

Hulley het president Zuma se belange hanteer met onder meer die wapenskandaal en die klagtes oor sogenaamd spioenasie-bande.

Die presidensie het in die parlement slegs verwys na sekere dele van die regskoste, en toe bekend gemaak dat Hulley R2,3 miljoen betaal is.

Onduidelikheid het toegeneem met Jeff Radebe se verwysing na die vergoeding van advokate vir dié sake, wat tussen R24,000 en R36,000 per dag beloop het.

Verlede week het die volle waarheid uitgekom toe dit erken is dat die regskoste van Zuma sowat R8,8 miljoen beloop het, waarvan R8 aan Hulley betaal is.

’n Cope woordvoerder het gesê dit is ’n skande dat Zuma met belastingbetalers se geld speel asof dit sy eie is.

’n Politieke ontleder is van mening dat die betaling van regskoste deur die regering ’n verkeerde handeling is, aangesien die president vir beweerde wandade verantwoordelik gehou is, en dus self die koste moet betaal om sy onskuld te bewys.

Dit is immers wat elke landsburger moet doen, en hy is nie verhewe nie, is gesê.