R2 milj vir erf, maar mag nie bou

Drr. Doron en Lani Frantzen moes die skokkende nuus verneem dat hulle nie op hulle erf mag bou nie aangesien dit in ‘n groen gordel is.

Die erf op die gesogte Sable Hills Waterfront Estate, aan die oewer van die Roodeplaat-dam, het die Frantzens einde van 2011 net meer as R2 miljoen gekos. Hier wou hulle hul droomhuis oprig.

Maar nou kan hulle nie die erf verkoop of eers daarop kampeer nie. Op die titelakte word aangedui dat die erf vir residensiële ontwikkeling gesoneer is, maar indien hulle sou bou, kan hulle met R5 miljoen beboet word.

Hulle het die erf by die landgoed se ontwikkelaar, Dries Venter, gekoop.

Dit was eers toe die landgoed se huiseienaarsvereniging hulle meedeel die grond is volgens die Sentraal-Transvaalse Departement van Omgewingsake in ’n groen ­sone dat die Frantzens besef het alles is nie pluis nie.

Hulle het die afgelope twee jaar al wat ’n advokaat, prokureur en omgewingskonsultant is genader om ’n oplossing te probeer vind. Venter het sedertdien talle leë beloftes gemaak, soos dat hy die grond vir ’n ander erf op die landgoed sal verruil en hul geld sal terugbetaal, sê Lani.

Maar volgens Venter het die Frantzens die erf self gekies en was te alle tye bewus van die sonering. Dit was gedefinieer as private oop ruimte wat volgens hom beteken dat dit ontwikkel kan word an ‘n mens die regte van die ontwikkeling in geheel in ag neem.

Dit het sedertdien aan die lig gekom dat die huiseienaarsvereniging en Venter in ’n regsgeding betrokke is. Die inwoners is omgekrap omdat Venter glo nie voldoende infrastruktuur vir basiese dienste met inagneming van die getal erwe voorsien het nie.

Venter sê egter die vereniging voldoen nie aan sy kontraktuele verpligtinge nie en tree op ’n kwaadgesinde manier op.