Publiek moet bankrot Jeugliga help

Die publiek en sakelui behoort hand in die sak te steek en die ANC-jeugliga se skulde delg sodat hy uit die dilemma kan kom.

Dit is die oortuiging van Mzwandile Masina, die waarnemende president van die omstrede Jeugliga.

Die oproep wat gedoen word, is dat sogenaamde “goeie burgery van die land” die skuldlas moet uitwis deur hulle finansiële bydraes aan die Liga te maak.

Die Jeugliga is bankrot verklaar as gevolg van ’n skuldlas wat by die R17 miljoen beloop en wat waarskynlik nie betaal gaan word nie.

Kenners meen egter dat die R17 miljoen waarskynlik te konserwatief bereken word, en dat die skuldlas moontlik meer as R20 miljoen kan beloop.

Die ANC-Jeugliga moet in Januarie volgende jaar redes gee aan die Hooggeregshof, waarom die liga nie gelikwideer, en ontbind moet word nie.