Psalmboek van 1640 behaal $14,2 miljoen

Dit word nou beskryf as die wêreld se waardevolste boek. ‘n Kopie van Psalms gedruk in 1640 het in ‘n veiling in New York ‘n rekordbedrag van $14,2 mijoen behaal.

Dit word bereken dat dit die eerste boek is wat in die VSA gedruk is en staan bekend as die Bay Psalm Book. Sotheby’s het die verkoop hanteer.

Die boek het ‘n nuwe rekord behaal en het vorige rekords soos Shakespeare’s First Folio en Birds of America oortref.

Die klein boekie is in Cambridge deur die Puriteinse leiers van die Massachusetts Bay-setlaars gedruk, slegs 20 jaar nadat die Pelgrims by Plymouth Rock geland het.

Die Leonardo da Vinci Kodeks, ‘n persoonlike notaboek van wetenskaplike skrywes en diagramme, is steeds die wêreld se duurste boek. Dit is in 1994 deur Christie’s vir $30,8 miljoen verkoop.