Plofstowwe uitgesnuffel.

‘n Internasionale deurbraak met die uitsnuffel van gevorderde plofstowwe wat in terroriste-aanvalle gebruik word, is op Suid-Afrikaanse bodem gemaak.

Die Braveheart Bio-honde-akademie in Rayton, oos van Pretoria, het ’n nuwe tegniek bekend gestel waarmee snuffelhonde opgelei word om ’n nuwe generasie plofstowwe uit te ruik. 

Dié plofstowwe, algemeen bekend as “mother of Satan”, word deesdae al hoe meer deur terroriste in bomaanvalle gebruik.

“Die stowwe is baie gevaarlik omdat dit maklik is om te vervaardig, uiters onstabiel is, en boonop moeilik is vir sekuriteit-toerusting by lughawens en doeane om op te tel,” het John Greyvenstein, stigter van die honde-akademie, gesê.

Die nuwe plofstowwe is gegrond op peroksied-groepe, wat geen stikstof-atome of metaal bevat nie en dus nie deur x-straal masjiene of metaalverklikkers geïdentifiseer kan word nie.

“Omdat die stof so onstabiel is, is dit vir honde én hul afrigters gevaarlik om daarmee te werk,” het dr. Fanie van der Walt, chemikus van die akademie, verduidelik.

“Ons moes dus ’n opleidingshulpmiddel ontwikkel wat nie plofbaar is nie, maar steeds soos die ware Jakob ruik.”

Om die onstabiliteit van peroksied-gebaseerde plofstowwe teen te werk, het die Braveheart-span formules geskep om die rakleeftyd van die opleiding-hulpmiddels wat hulle besig was om te ontwikkel, te verleng, en dit toe met ‘n reuklose stof gestabiliseer.

Daar is sowat agt jaar gelede met dié proses begin.

Die akademie kon tot dusvêr daarin slaag om vyf honde op te lei om peroksied gebaseerde plofstowwe uit te ruik.

“Ons is, volgens my kennis, die eerste ter wêreld wat dié holistiese proses ontwikkel het,” het Greyvenstein gesê.

Die akademie onderhandel reeds met ander lande om ’n paar honde hanteerders na Suid-Afrika te stuur om saam met snuffelhonde opgelei te word, sodat die honde ook internasionaal gebruik kan word.

Greyvenstein het gesê deesdae is almal ’n moontlike teiken vir terrorisme.

“Terroriste probeer altyd ’n stap voor wetstoepassers bly, daarom is dit noodsaaklik om aanhoudend nuwe maniere te ontwikkel om plofstowwe op te spoor,” het hy gesê.