Parasiet laat seun oog verloor

Johnny Styger, ’n gr. 9 leerling van die Hoërskool Goudveld in Welkom, het die sig van sy een oog verloor weens die teenwoordigheid van ’n rondewurm parasiet wat normaalweg by honde en katte voorkom wat nie ontwurm is nie.

Die skade wat daardeur veroorsaak is, kan nie herstel word nie en Johnny se ander oog kan ook deur die parasiet beskadig word.

Die parasiete word gewoonlik deur huisdiere aan kinders oorgedra nadat van die parasiete op die lyf van die dier beland het, en die kind onbewustelik daaroor gestreel het, en daarna die vinger in die mond steek.

Normaalweg kom mense niks oor van die parasiete nie, maar as die larwes op een of ander wyse in die dunderm kanaal beland, kan dit ernstige gevolge inhou.

Dit kan selfs die niere, brein, lewer en longe aantas.

Die beste raad om so ’n tragedie te voorkom, is om jou hande te was as jy aan huisdiere gevat het, en sorg dat die diere gereeld ontwurm word.