Ouma Christine oorlede

Tannie Christine Vogel (104) het twee maande gelede ’n heup operasie ondergaan nadat sy geval het in haar kamer in die Nasina-tehuis van Ventersburg in die Vrystaat.

“My ouma was ongelukkig net nie sterk genoeg om hierdie terugslag te kon verwerk nie,” het haar kleindogter, Nuansa Vogel gesê.

Tannie Christine is nou, twee maande na die operasie, oorlede.

Nuansa vertel graag van haar ouma se ongelooflike vermoë om betrokke te bly in die samelewing, te midde van ’n uitermatige hoë ouderdom.

‘Ouma het haar familie verryk deur nie net besittings aan hulle oor te dra nie, maar het ook van haarself aan die familie geskenk.

Tannie Christine sal onthou word daarvoor dat sy ’n mooi, goed versorgde vrou was en daarby ’n baas-bakster.

Familie, vriende en kennisse was altyd verbaas oor die elegansie waarmee sy elke dag voor mense verskyn het, met hoë hak skoene, sykouse en pragtig geklee.

“Sy het tot en met haar dood ’n seëlring met haar man se voorletters aan haar ringvinger gedra,” sê Nuansa.