Ouers in hof oor mishandeling

’n Ma, en ’n stiefpa van ’n jong sportster in Bloemfontein, is aangekla van kindermishandeling en poging tot moord, omdat hulle hul kind wat in die laerskool is, genadeloos laat oefen het.

Die egpaar is in die hof deur die landdros gewaarsku om eerskomende Vrydag weer in die hof te verskyn nadat hulle voorlopig vrygelaat is.

Die dogter is intussen onder pleegsorg geplaas en die ouers is verbied om met hulle kind kontak te maak. Hulle mag ook nie met die skoolhoof, die klasonderwyseres, of met ander ouers van die skool, kontak maak nie.

Die dogter, wie se naam nog nie bekend gemaak mag word nie, presteer op akademiese gebied net so goed as op die sportveld.

Sy presteer in tweekamp, hokkie en tennis.

Die klag is gelê nadat sy in 2012 vir ure moes swem in die Krugersdriftdam terwyl die ouers staan en toekyk, maar toe sy later weens uitputting nie meer kon swem nie, is sy geslaan en geforseer om weer te swem.