Oorgewig man uiteindelik geholpe

’n Fransman wat die skaal op 230 kg trek, is herhaaldelik deur lugrederye weggewys, en was gevolglik in Amerika gestrand weens sy gewig.

Uiteindelik het die Virgin lugdiens die kans waargeneem en uitstekende reklame uit die hele saak gekry toe hulle aangekondig het dat hulle Kevin Chenais (22) gratis sal vervoer.

Chenais ly aan ’n erge graad van hormoon wanbalans, en is sedert Mei 2012 in Amerika vir behandeling daarvoor.

Toe hy gedurende Oktober probeer het om terug te keer huis toe, was British Airways nie bereid om hom te vervoer nie omdat sy gewig te swaar is.

By sy aankoms op Heathrow lughawe, was hy vol komplimente vir die Virgin lugdiens, maar was moeg en uitgeput van die lang rit.

Die Franse konsulaat in Brittanje was by sy aankoms gereed om hom te help met vêrdere reisreëlings na Frankryk.