Ontsteltenis oor vieslike vraestel.

Groot ontsteltenis heers oor ‘n vraag wat matrikulante oor kinderverkragting in die drama-vraestel moes antwoord.

Die leerlinge moes ‘n verpligte en onvoorbereide vraag beantwoord uit die toneelstuk deur Lara Foot Newton.

Die drama is gebaseer op die wrede verkragting van ‘n nege maande oue Baba Tsepang. Die kind het die verkragting nie oorleef nie.

Sowat 6,000 gr.12’s het die vraestel  geskryf.

Die onvoorbereide vraag is deur onderwysers, ouers en leerlinge  as "onstellend," "onvanpas"  en "onsensitief" beskryf.

’n Drama-onderwyseres van ’n hoërskool in Sentraal-Transvaal het skriftelik ’n klag oor die vraestel by die Onderwysdepartement ingedien.

Shakespeare het geskryf dat "all the world is a stage .." maar dit beteken nie dat elke skoolkind beplan om ‘n dramaregisseur te word nie. Dit het dus ook nie sin gemaak nie om onder meer van leerlinge te verwag om te beskryf hoe hulle die akteur ’n daad van verkragting (deur ’n besemstok en brood te gebruik) sal laat opvoer “om die aakligheid van die verkragting vir die gehoor te vergroot”.

Die onderwyseres wat die klagte ingedien het, het gesê die vraag is heeltemal onvanpas as in ag geneem word dat talle leerlinge wat dit moes beantwoord al slagoffers van verkragting was en daardeur opnuut getraumatiseer kon word deur dit te herleef.

’n Drama-onderwyser van Bellville in die Kaap, het gesê die drama is ’n uitstekende stuk werk, maar die feit dat dit ’n onvoorbereide vraag is, maak dit onvanpas vir die leerlinge. Volgens hom moet leerlinge kennis neem van kinderverkragting, maar dit moes eerder in die klas behandel gewees het en ‘n voorgeskrewe werk gewees het.

‘n Drama-onderwyseres verbonde aan die Hoërskool Waterkloof in Pretoria sê die stuk is skokkend by die eerste lees daarvan, maar dit beeld die realiteit van die land uit aan mense wat blasé geraak het.

Sy reken dat dit kan skok maar sover dit die vak betref, moet mens ook daaraan dink dat leerlinge aan verskillende genres bekend gestel moet word.

‘n Ouer in Oos-Transvaal gaan ook ‘n klag indien. Hy sê sy dogter was letterlik siek na die vraestel. Sy het opgegooi en kon die aand nie slaap nie. Volgens hom is dit walglik dat kinders aan iets so visueel soos kinderverkragting blootgestel word.

Inmiddels het ‘n woordvoerder van Umalusi, die Staatsbeheerde Kwaliteitsliggaam vir Algemene en Verdere Opvoeding en Opleiding, Lucky Ditaunya, gesê dat leerlinge wat aanstoot teen die vraag geneem het, nie goed genoeg voorberei was vir die eksamen nie.

Die swak argument hou nie water nie, want dit was nie ‘n voorgeskrewe drama nie, het kenners later opgemerk. 

Umlasi het ook aangekondig dat hulle dit sal oorweeg om die vraag by die eksamen uit te laat.