Onbemande vegvliegtuie vir die toekoms

Miskien sal die Suid-Afrikaanse regering een groot probleem opgelos kry deur in die toekoms eerder te belê in onbemande vegvliegtuie.

Die opmerking is gemaak na aanleiding van die nuwe vegvliegtuie wat nou beskikbaar raak en wat oor die vermoë beskik om selfs op ’n vliegdekskip te land.

Die ANC-regime sit reeds etlike jare en worstel met die probleem dat hy nie daarin slaag om die “Silwer valke” met sy diskriminasie om te swaai na Swart Valke nie.

Die hedendaagse “onbemande outonome vegvliegtuie” is tegnologies so gevorderd dat dit enige taak kan verrig wat normaalweg deur ’n vlieënier gedoen sou moes word terwyl die “vlieënier” veilig agter ’n rekenaar sit en sy tuig beheer.

Tans word vegvlieëniers se toekoms bedreig deur die moontlikheid dat hulle nie meer nodig sal wees agter die stuurstokke van ’n vegvliegtuig nie.

Desmond Barker, ’n lugvaartkunde-spesialis, betrokke by die WNNR, is self ook die mening toegedaan.

“Gedurende die afgelope twee jaar het Amerika meer onbemande vliegtuig operateurs opgelei as konvensionele vlieëniers,” het Barker gesê.

Kenners meen die dae is amper verby vir die gewone vlieënier, omdat al meer vliegtuie gebou gaan word wat sonder ’n vlieënier funksioneer.

Die tydskrif “Popular Mechanics” het onlangs sy uiters gesogte “Breakthrough Award” aan die ontwikkelaars van die X-47B vliegtuig toegeken vir hulle uitstaande projek van onbemande vliegtuie.

Kommer bestaan dat die onbemande vliegtuie daartoe kan lei dat “moord vlugte” begin kan word, wat ’n skending van internasionale gedragskodes meebring, maar wat vervolging aansienlik bemoeilik.

Die beste voorbeeld hiervan is waarskynlik die onlangse voorval wat deur Reuters gerapporteer is, van n Amerikaanse vliegtuig, wat onbeman was, en wat die leier van die Pakistanse Taliban doodgeskiet het.