Olieprys daal na Iran-ooreenkoms

Die Brent ru-olieprys het nie veel reaksie getoon op die ooreenkoms wat bereik is met Iran, oor die land se oënskynlike inskiklikheid om hulle kernkrag ontwikkeling af te skaal nie. Die olieprys het aan die begin van die naweek, voor die ooreenkoms, teen $111.05 per vat verhandel en die vorige week, op15 November, teen $108.50. Op Dinsdag, 26 November het die verhandelingsprys op ongeveer $111.00 gestaan.

Alhoewel die media groot prominensie aan die ooreenkoms verleen het en die Westerse onderhandelaars onder mekaar hoogs tevrede soene begin uitdeel het (nie net tussen die teenoorgestelde geslag nie) heers daar steeds wantroue of die ooreenkoms in sy doel geslaag het.

Israel het gewaarsku dat die Westerse leiers ‘n rat voor die oë gedraai is.

Iran is hoogs tevrede, want die land se ekonomie het geweldig skade gelei weens die sanksies, wat nou geleidelik gelig gaan word. Die inflasiekoers in die land was meer as 20% en die land se ru-olie uitvoere het met die helfte afgeneem.

Daar word bereken dat die skade weens die verlaagde ru-olie inkomste Iran sowat $80-miljard gekos het. Iran besit ongeveer 9% van die wêreld se ru-oliereserwes.

Kenners is van mening dat die verhoogde ru-olie produksie van Iran uitgebalnseer word deur die verlaagde produksie uit die olieryke Libië weens die land se politieke onstabiliteit.