Nood is hoog op Blyvooruitsicht

Daar skyn nie ‘n blye vooruitsig vir die inwoners van die klein myndorpie, Blyvooruitsicht te wees nie.

Die Blyvooruitsicht-myn het aansoek gedoen om hom te laat likwideer en alle mynbedrywighede is gestaak. Die gevolg is dat die dorp toegewaai is onder giftige mynsand.

Vroeër het die mynbestuur die reuse-mynhoop met water natgegooi om die stof te beheer, maar sedertdien is dít ook gestaak.

Paulo de Gouveia, ­mede-eienaar van ’n winkel­sentrum in dié byna verlate myndorpie, sê dit is hel om daar te bly. Hy het die opmerking ná ’n noodvergadering verlede week in ­Carletonville met amp­tenare van die Merafong- plaas­like owerheid, die mynbestuur en ’n afvaardiging van die Departement van Minerale Bronne gemaak.

Desiree Barreiro, eienaar van die Kwikspar in die dorp, het gesê mense wil nie eens meer kos by haar kruidenierswinkel koop nie.As die wind waai, is alles toe onder spierwit stof.

De Gouveia, wat pas die Blyvoor-omgewingsaksiegroep in die lewe geroep het, het gesê daar is meer as 40 metale in die mynstof. Een daarvan is uraan.

Hy gaan dit nou in ’n laboratorium laat ontleed.

Volgens die Waternavorsingskommissie se sogenaamde 1214– verslag lê daar 430,000 ton uraan op ou goudmynhope aan die Wes- en Verre-Wes-Rand.

Mariette Liefferink, direkteur van die Federasie vir ’n Volhoubare Omgewing, het gevra dat die Nasionale Kernreguleerder betrokke raak.

Dit kan wees dat die mense radioaktiewe partikels en radon-gas inasem, het sy gesê.