"Nommer Een" steek stokkie voor adjunk se toekenning

‘n Eerbewys van China aan die adjunk-pres. Kgalema Motlanthe is op die nippertjie teruggetrek en die vingers wys nou na pres. Jacob Zuma.

Dit is skynbaar bekend dat die werksverhouding tussen Zuma en Motlanthe so swak is dat hulle saamwerk “net wanneer hulle moet” en dit lyk vir Motlanthe se vertrouelinge asof die president hom om elke hoek en draai probeer verkleineer.

Die debakel met die eerbewys uit China is ‘n bewys daarvan, aldus drie goedgeplaaste en betroubare ingeligtes. Skynbaar was Motlanthe onlangs “woedend” toe hy van amptenare in die Suid-Afrikaanse ambassade in Beijing moes hoor die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking het opdrag gegee dat die uitnodiging aan Motlanthe van die hand gewys word.

Hy het ’n ere-professoraat van die Universiteit van Internasionale Sake en Ekonomie reeds aanvaar en ’n toespraak voorberei, maar het enkele dae voordat hy saam met drie ministers en ’n paar adjunkministers sou vertrek, daarvan te hore gekom, het Motlanthe se woordvoerder, Thabo Masebe, bevestig.

Mac Maharaj, Zuma se woordvoerder, het die bewerings ontken en gesê daar is ‘n normale verhouding tussen die twee.

Hy het dus onwetend bespiegelings bevestig, want wat hy eintlik sê is dat dit normaal vir die president is om iemand wat hy vrees sy donder kan steel, in die wiele te ry. Soos wat die president woedend was oor die goeie dekking wat Motlanthe van die SAUK gekry het na sy ampsbesoek aan Skandinawië en hy die uitsaaier opdrag gegee het om dit te staak.

Foto – Kgalema Motlanthe