Nog ‘n Gupta-Zuma verwikkeling

Die Gupta-familie en pres. Jacob Zuma se seun Duduzane het bande met ’n mynmaatskappy wat verskeie omgewingswette, asook die Waterwet, in die opvangsgebied van die Olifantsrivier, buite Ogies, oortree.

Die myn, Vierfontein (Idwala Coal), het sowat drie jaar gelede sonder ’n waterlisensie of omgewingsgoedkeuring met sy werk begin.

VK Shrivastava, uitvoerende hoof van Vierfontein, doen nou aansoek om ’n sogenaamde 24G-regstelling onder die Nasionale Omgewingsbestuurswet nadat plaaslike boere die mynhuis by die Oos-Transvaalse Departement van Ekonomiese Ontwikkeling, Omgewingsake en Toerisme weens beweerde omgewingsvergrype verkla het.

Volgens berigte het ’n mynmaatskappy wat gekoppel word aan die Gupta-familie en Duduzane Zuma die afgelope drie jaar “ ’n spoor van verwoesting” in Oos-Transvaal gelaat.

Idwala Coal (Vierfontein) val onder Oakbay Investments, een van die Guptas se twee sambreelmaatskappye. Die ander een is Sahara Holdings. Shrivastava werk vir Oakbay Investments. Zuma is direkteur van Mabengela Beleggings, die swartbemagtigingsvennoot in Oakbay Investments.

Zuma is ook ’n direkteur van die Guptas se Sahara Holdings.

 

Shrivastava het die afgelope maand geweier om enige inligting oor Idwala Coal se eienaarskap bekend te maak en het navrae na Ian Troskie, ’n omgewingskonsultant, verwys. Troskie het vrae weer na Oakbay Investments verwys.

Troskie, omgewingskonsultant van Cabanga Concepts, wat die 24G-aansoek hanteer, sê die Vierfonteinsteenkoolmyn het ’n goedgekeurde mynreg wat uitgereik is ingevolge die Wet op Minerale en Petroleum-hulpbronne.

Die myn het in 2011 om ’n waterlisensie aansoek gedoen, maar die Departement van Waterwese het dit teruggestuur weens vrae en leemtes.

Luidens die dokumente het Idwala Coal deur ’n rivier (’n sytak van die Rietspruit in die opvangsgebied van die Olifantsrivier) gemyn. Dié rivier is verlê en ’n vlei in die gebied is ook gemyn.

Die steenkoolmyn het ook ’n provinsiale pad sonder toestemming verlê en inheemse plantegroei op die oewer van die nie-standhoudende rivier vernietig.

Die myn gebruik ook na verneem word boorgatwater.

Chris Boshoff, boer op ’n buurplaas, Nooitgedacht, het op ’n onlangse vergadering tussen belanghebbendes en Shrivastava gesê sedert Idwala met sy mynboubedrywighede begin het, het een van sy boorgate die eerste keer in 34 jaar opgedroog.

Troskie het gesê belanghebbendes het tot 29 November kans om kommentaar te lewer op Idwala Coal (Vierfontein) se aansoek om ’n waterlisensie.

Gary Naidoo, woordvoerder van die Guptas, het bevestig Oakbay is een van die Guptas se maatskappye.

Zuma was nie vir kommentaar beskikbaar nie.