Nog ‘n geldmors oorsese reis

Ebrahim Ebrahim, adjunkminister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking (Dirco), is in die Demokratiese Republiek van Noord-Korea op uitnodiging van die omstrede Kim Jong-un.

Ebrahim se drie dae lange besoek aan Pjongjang het die afgelope week die oë laat rek aangesien Kim tot onlangs nog gedreig het om die VSA met sy beweerde kernarsenaal te bombardeer.

Dié land is volgens Human Rights Watch, ’n internasionale nieregeringsorganisasie, skuldig aan ’n magdom vergrype van menseregte.

Volgens Dirco het Suid-Afrika bande met Noord-Korea omdat dié land die ANC in sy stryd teen kolonialisme en apartheid gesteun het.

Voorts is daar sedert 1998 diplomatieke bande tussen die twee lande en het Aziz Pahad, Ebrahim se voorganger, Pjongjang in 2005 besoek.

Gegewe die ekonomiese sanksies teen die land, is daar egter nie veel handel tussen Noord-Korea en Suid-Afrika nie en het die Departement van Handel en Nywerheid geen huidige statistieke oor in- of uitvoere tussen die twee lande nie.

Yonhap News, Suid-Korea se grootste nuusagentskap, het eergister berig dat Kim (in sy vroeë 30’s) in sy eerste twee jaar as leier op sy interne magsbasis gekonsentreer het, maar in die afgelope maande sy visier op internasionale verhoudings gestel het om die land se beeld te verbeter.

“Aanvanklik het die jong leier vinnig beweeg om beheer oor te neem van die regerende Werkersparty van Korea (WPK), die regering en die weermag en só sy bewind op die land af te dwing. Tog blyk dit nou of Pjongjang meer aandag aan buitelandse sake skenk,” het Yang Moo-jin, ’n politieke wetenskaplike aan die Universiteit van Noord-Koreaanse Studies, aan Yonhap gesê.

Dirco het in ’n verklaring gesê Ebrahim sal Noord-Korea aanmoedig om kanale met Suid-Korea te heropen en terug te keer na die sesparty-samesprekings wat daarop gemik is om Noord-Korea van sy kernwapenprogram te laat afsien.