Nigeriërs steel miljoene Rand

Twee Nigeriërs is in Kaapstad deur polisiebeamptes vasgetrek nadat hulle mense uit meer as R8 miljoen bedrieg het. 

Beide skelms is gevang terwyl hulle blykbaar ’n skelmstreek, bekend as die 419-slenter, vanaf skootrekenaars in ’n hotelkamer bedryf het.

Die 419-slenter word deur skelms toegepas met ’n e-posboodskap wat gestuur word in naam van die Western Union-bank, om mense in te lig dat hulle kwansuis geld in ’n kompetisie gewen het.

Die twee, Ajibola Ogmechi en Pius Okunbor is klaarblyklik gekoppel aan ’n sindikaat wat in Sentraal Transvaal en in die Wes-Kaap bedrywig is.

Een dame uit Australië is glo met bykans R2 miljoen bedrieg

’n Woordvoerder van die Valke sê die twee is deel van ’n groter netwerk en nog inhegtenisnemings kan eersdaags verwag word.