Nie ‘n volksmoord nie

Bewerings dat wit mense in die land spesifiek deur misdadigers geteiken word of dat ’n wit volksmoord aan die gang is, “is van alle waarheid ontbloot”.

Só het Siyabonga Cwele, Minister van Staatsveiligheid, gister op ’n mediakonferensie van die interdepartementele groep belas met justisie, misdaadvoorkoming en veiligheid (JCPS) in Pretoria gesê.

Hy het gereageer op ’n vraag oor of dié groep bekommerd is oor sodanige onlangse bewerings, byvoorbeeld deur ondersteuners van die Rooi Oktoberveldtog teen plaasmoorde.

“Daardie soort uitlatings word telkens gemaak deur ’n klein minderheid van Afrikaners wat sulke gerugte voortdurend op die internet en sosiale media aanhits,” het hy gesê.

“Ons gaan intussen, soos nog altyd, voort om álle Suid-Afrikaners, ongeag hul ras, velkleur, kultuur of oortuigings, tot die beste van ons vermoë te beskerm.”

Jeff Radebe, Minister van Justisie, wat die media oor die JCPS se vorderinge en uitdagings toegespreek het, het gesê onlangse uitsprake en vonnisse in byvoorbeeld die Anene Booysen- en Boeremag-sake is bewyse van die land se doeltreffende regstelsel.

Hy het gesê die feit dat staatsinisiatiewe in die stryd teen misdaad wel vrugte dra, word bewys deur die 38% afname in kontakmisdade in die land gedurende die afgelope nege jaar en 4,2% die afgelope jaar.

Foto – Siyabonga Cwele