Nekbesering na valskermsprong

‘n Man het die naweek in ‘n valskermsprong by die Tempe-lughawe ‘n ernstige nekbesring opgedoen en kan in dié stadium nie sy nek beweeg nie.

Adam Reyneke (46), ’n verkoopsman van tweedehandse motors in Virginia, is een van sowat tien valskermspringers wat verlede Saterdag aan die jaarlikse Tempe Sun & Fun Fly-in-lugskou deelgeneem het.

Volgens toeskouers en familielede was Reyneke byna op die grond, maar ’n skielike, erge rukwind het hom en sy valskerm sowat ’n kilometer die veld in gesleep.

Hy is glo ’n paar keer die lug in gewaai en dan weer neergeslinger.

Reyneke se vrou, Mariaan, en sy een dogter, Johandi, het dit sien gebeur.Jaco Stander, ’n familielid, het gister gesê dit was vir die familie ’n geweldige skok.

“Dit is die laaste ding wat ’n mens verwag het.”

Hy sê Reyneke het al tientalle spronge agter die rug en pak almal altyd met groot passie aan.

Hy spring gereeld – byna elke naweek, en soms twee of drie keer op ’n Saterdag.”

Werner Vermaak van ER24 het gesê met die paramedici se aankoms op die toneel was Reyneke in ’n kritieke toestand. Hy is per helikopter hospitaal toe geneem.

Reinette Oosthuizen, netwerkbemarker van die Bloemfonteinse Mediclinic, het gister gesê sy toestand is stabiel en hy word in die hospitaal se intensiewesorg-eenheid verpleeg.

Valskermspringers het gesê die weersomstandighede was glad nie gunstig vir valskermspring nie.

’n Groep senior springers – sommige met meer as 200 spronge agter die rug, het hulle daarom vroeër dié dag onttrek.