Nederland sleep Rusland na maritieme hof.

Nederland het ‘n internasionale maritieme hof gevra om Rusland te beveel om die 30 mense vry te laat wat ten tye van ‘n Greenpeace-betoging teen olie-eksplorasie in die see in die Noordpoolgebied in hegtenis geneem is.

’n Woordvoerder van die Nederlandse regering, Liesbeth Lijnzaad, het gesê Rusland het die aktiviste se menseregte geskend.

Die groep is in September in hegtenis geneem toe hulle op Rusland se see-olieboor in die gebied probeer klim het. Hulle is “sonder rede” sewe weke lank aangehou.

Rusland het aangedui dat hy die regsaksie om die groep te laat bevry nie erken nie en het die groep met sy skip, die Arctic Sunrise, wat in Nederland geregistreer is, daarvan beskuldig dat hy die installasie se veiligheid bedreig het deurdat hy die werk aan boord versteur het.

Die groeplede is van seerowery aangekla, maar die klag is later verander na boewery waarvoor tronkstraf van tot sewe jaar opgelê kan word.

Die Russiese president, Vladimir Putin, het gesê die aktiviste is nie seerowers nie, maar gewone wetsoortreders.

Putin word al hoe meer in die Weste beskuldig dat hy die geval te hardhandig hanteer.

Die dispuut is aan die vererger, het Lijnzaad aan die internasionale tribunaal vir mariene reg in Hamburg gesê. “Geen land het die reg om vaartuie in sy eksklusiewe maritieme ekonomiese sone te konfiskeer wat aan ’n derde land behoort nie.”

Die voorsitter van die tribunaal, regter Shunji Yanay, het 22 November voorlopig opsy gesit vir ’n beslissing.

Die tribunaal is in 1982 deur ’n konvensie van die Verenigde Nasies in die lewe geroep.

Nederland en Rusland het die konvensie onderteken.

Die tribunaal se beslissings is bindend, maar hy het geen manier om dit af te dwing nie.

Nog ’n verteenwoordiger van die Nederlandse regering, Rene Lefeber, het aan die hof gesê eksklusiewe ekonomiese sones, soos dié waar op die Greenpeace-skip beslag gelê is, gee ’n staat die reg om sy natuurbronne te beskerm, maar nie om aan boord van vaartuie te gaan of beslag daarop te lê soos wat in ’n land se gebiedswater gedoen kan word nie.

Aangesien die beslaglegging op die skip onwettig is, is ander optrede wat daarmee verband hou, soos die aanhouding van die bemanning, ook onwettig, het Lefeber gesê.

’n Greenpeace-woordvoerder het gesê Greenpeace vermoed dat die seerowery-klag steeds geld, ondanks Putin se uitspraak.

Vir seerowery kan tronkstraf van tot 15 jaar opgelê word.

Foto – Liesbeth Lijnzaad