Nabucco van Verdi

Om te luister:  druk “ctrl” en klik op die skakel:

 http://www.youtube.com/watch?v=06I5iqqN_0I

Iets meer oor hierdie pragtige werk.

Hierdie koorwerk uit die opera Nabucco, is seker een van Verdi se mooiste en bekendste werke. Dit word hier uitgevoer deur die koor en orkes van La Scala, die operahuis vir wie Verdi die meeste van sy opera’s gekomponeer het en die dirigent is die destydse artistieke direkteur van die operahuis, Riccardo Muti.

Verdi was nie net ‘n groot komponis nie, maar eerstens ‘n diep gelowige mens en veral ‘n patriot. Die meeste van veral sy vroeë werke spreek van vaderlansdliefde as die belangrikste motivering in die mense se lewe, naas geloof in God. In een van sy briewe skryf hy dat "selfs al sou ‘n jong persoon sterf in die verdediging van sy land, moet dit nie as ‘n tragedie gesien word nie, dit beteken net dat hy lank genoeg gelewe het."

En Verdi het tragedie geken. Hy het sy vrou en kinders aan die dood afgegee in ‘n kort tydjie, en toe het La Scala hom gevra om hierdie opera te komponeer.

Nabucco is gekomponeer gedurende die tyd wat Italië geveg het om die Oostenrykse juk af te gooi en as ‘n land onder koning Victor Emmanuel te verenig. Die opera het ‘n groot rol gespeel om ‘n gevoel van nasionalisme onder die Italianers te kweek. Na die vereniging van Italië het Verdi sy volk verder as parlementslid vir Busetto gedien.

Die opera handel oor die Hebreers se ontvoering na Babilon gedurende die tyd van koning Nebukadneser en is ook geïnspireer deur Psalm 137.

Die koorwerk is in die Derde Bedryf van die opera. Die gevangenes is in ‘n tipe "konsentrasiekamp." Dit open met vier somber rollende akkoorde, en dan antwoord die blasers, wat daarop dui dat ‘n nuwe begin. Die tema herhaal en eindig hierdie keer met ‘n tril op die fluit – die eerste voëlsang. 

Oomblikke hierna knarsende akkoorde. Soos dit in ‘n konsentrasiekamp gaan, het die wagte binnegekom en eers ‘n paar mense doodgeslaan. Dan stilte, nog ‘n marteldag het begin. En al wat oorbly is heimwee en om te bid.

Die gevangenes begin hulle verlange na hulle vaderland saggies prewel. Hulle is nog bang en wil nie hulle stemme verhef nie, maar op ongeveer merk 5:08 in hierdie opname neem die hartstog oor as hulle die woorde: "o, mia patria" (om my vaderland) sing en stort hulle emosie uit, maar word weer sagter op 5:37.

Op ongeveer 6:31 is die emosie en verlange so opgewek dat hulle nie meer omgee wie hoor nie, maar in die orkes waarsku die viole in ‘n weentema, dat daar ‘n prys betaal gaan word.

Interessant van hierdie opname is die eerbied waarmee die dirigent hierdie werk dirigeer. Die minimum musikale aanwysings (wel, dit is ‘n uitstekende musici in die orkesput) net sy wenkbrou wat af en toe lig. Eintlik dirigeer hy die verloop van die emosionele ontwikkeling in die stuk.

Hierdie uittreksel is die herhaling van die koorwerk; die eerste keer sedert Toscanini daar in die vroeë 1900’s die gebruik van ‘encore’s verbied het. Duidelik het die gehoor daarop gestaan om dit weer te hoor. Diegene wat nie na die lawaai van die emosionele Italianers wil luister nie, (dis eintlik komies) kan wag tot op ongeveer 2:31 vir die koorwerk om te begin.

Die woorde is as volg:

Va, pensiero, sull’alidorate;                      
va, ti posa sui clivi, sui colli,
ove olezzano tepide e molli
l’aure dolci del suolo natal!

Del Giordano le rive saluta,
di Sionne le torri atterrate…
O, mia patria, sì bella e perduta!
O, membranza, sì cara e fatal!

Arpa d’or dei fatidici vati,
perché muta dal salice pendi?
Le memorie nel petto raccendi,
ci favella del tempo che fu!

O simile di Sòlima ai fati
traggi un suono di crudo lamento,
o t’ispiri il Signore un concento
che ne infonda al patire virtù.

Die Afrikaanse woorde:

Gaan gedagte, op vleuels van goud; gaan rus op die hange van die heuwels, waar sag en milde, die soet geur van ons vaderland hang.

Groet die banke van die Jordaanrivier en die torings van ‘n verslane Sion.
O, my land, so pragtig en verlore!, O herinneringe so lieflik en fataal.

Goue harp van die profetiese sieners, waarom hang julle stil aan die wilger? Vertroetel die herinneringe in ons boesems en praat met ons van ‘n tyd lank verby.

Gedagtig aan die lotgevalle van Jerusalem, bring ‘n kru smartkreun na vore of mag die Here julle tot ‘n harmonie van stemme inspireer, wat die heil van lyding sal verduidelik.