‘n Mening: Die linkses se nagereg

“Jy is van lotjie getik om nie “ja” te stem nie, jy moet regtig jouself regruk, of jou kop laat lees want jy gaan agterbly en Suid-Afrika gaan vorentoe!”

Dit is die woorde wat die vêr-linkses in die DA en die afgestorwe NP jou toegesnou omdat jy “nee” gestem het vir die “Nuwe Ruwe SA”.

Toe KP en HNP waarsku, word hulle uitgeskel as ’n verskrikte, paniekbevange, histeriese spul regses wat agterlik en dom is.

Maar waar is die linkses nou, en waar is Suid-Afrika nou?

Die linkses is in geklits in die ou Prog Party van wyle tant Helen, waar vêr-linkse Zille nou die danspassies uittrap en die septer swaai.

FW se NP het gesink. Nou is hulle ook Progs.

En met al die linkses, waarvan die grootste klomp hulle in aardse rykdom versuip, word die Ruwe Suid-Afrika se handelsbalans al vrotter want die gesteel en korrupsie word al lekkerder.

Met al die gejubel oor die nuwe demokrasie, het die wêreld ook probeer saamspeel en hande geklap vir die wonder van ’n terroris wat toe ’n demokraat geword het, want kommunisme het mos lankal gevrek en is begrawe!

Maar so met die dekades wat verby vlieg, word die Britte uit hul Victoriaanse slaap wakker, en sien hulle dit begin neuk in die Ruwe Land, en sê sommer by voorbaat, ons gee julle nie meer miljoene se hulp nie.

En selfs die Switsers begin twyfel oor die wenslikheid om die donker Suide te ondersteun, terwyl die Belge skielik skrik gevang het vir die korrupsie, en maar vir eers die hand toe hou, vir nou.

Intussen sit die Yankees en twyfel, want hulle sien hoe die brieke losgemaak word met Rus, Chinees en Indiër wat bevelvoerders van Afrika se jongste pion geword het.

Maar die kommuniste van die Ooste ken nie die kommunis van Afrika nie. In Afrika is jou “ja” eintlik net vir nou van waarde, netnou beteken dit “nee”!

FW het gewys hoe word daar in Afrika omgegaan met woorde – eie skole en woonbuurte is net geldig tot die Ja-stem gewen het – verneuk met tellery of te nie!

En so durf die Ministertjie van Buitelandse Sake mos die Jodedom aan, en beduie dat die Ruwe Land se ministers eerder moet wegbly uit Israel, ter wille van die Palestyne en ander.

Die besoek aan Noord-Korea is egter van groot belang, want die een kameraad besoek die ander kameraad.

Dit is mos waarvoor die linkses in 1994 gestem het!

Kortom, die linkses, het Ja gestem vir kommunistiese oorheersing. Hulle het Ja gestem vir massa moord en doodslag, vir verkragting van hulle kinders, vir totale verval van ’n modelstaat van weleer in Afrika.

So, die linkses het baie om oor skaam te wees, min om hulle monde oor uit te spoel, en baie om oor na te dink!

Daarom is die aanbeveling: Linkses, en vêr-linkses, stem vir nog vêrdere verval, en vertel dit aan die geslagte wat kom, as daar nog geslagte gaan kom.

Miskien is daar tog iewers ’n paar linkses wat Zille se plan volg deur te bieg, soos wat sy kamma gebieg het – “Ons is mislei”!

Die linkses moet nou hulle eie nagereg geniet!

Die klompie sogenaamde “agterlike regses” het gelukkig geweet wat kom –  Afrika is vol voorbeelde daarvan.