Mynhuise floreer, belastingbetaler moet opdok.

Die belastingbetaler sal moet betaal vir die skade deur die goudmynbedryf aan die Witwatersrand.

Nagenoeg R10 miljoen per maand sal benodig word wanneer twee reuse waterpompe aan die buitewyke van Germiston aangeskakel word om besoedelde mynwater uit die sentrale dolomitiese kom na die Elsburgspruit te pomp.

Marius Keet, senior bestuurder van mynwater by die Departement van Waterwese, het gesê. 57 mega-liter water sal daagliks uitgepomp word.

Volgens Michelle Grobbelaar, hoof van seismologie by die Raad vir Geowetenskappe, kan die aardbewing wat groot dele van Johannesburg Maandag geskud het en 4 op die Richterskaal geregistreer het, vermoedelik toegeskryf word aan die water wat in die Witwatersrand se sentrale kom styg.

Mariette Liefferink, direkteur van die Federasie vir ’n Volhoubare Omgewing (FVO), het gesê dit is jammer dat die belastingbetaler verder belas moet word deur te betaal vir die goudmyne se nalatenskap.

Volgens Liefferink is daar geen omgewingsimpakstudie gedoen om vas te stel wat die uitwerking van die uitpomp van die water uit die mynkomme gaan wees nie. Sy sê dit kan dalk tot verdere aardskuddings lei.

Dié pompstasie word tans teen R500 miljoen opgerig.

Die Hoofingenieur van die projek, John Otto, het gesê die pompe word binnekort in een van die ou skagte by die ERPM-myn op ’n diepte van 200 m onder die grond geïnstalleer.

Die pompe sal na verwagting in Maart volgende jaar aangeskakel word. Die pompe sal “dag en nag en vir altyd” aan die gang gehou moet word.