Munisipale krag – R1,5 miljard verskuldig

Munisipaliteite in Oos-Transvaal, Vrystaat en Sentraal Transvaal, is die grootste sondebokke wat nie hulle kragrekenings by Eskom betaal nie, en nou sit die kragvoorsiener met ’n “oninvorderbare skuldlas” van meer as R1,5 miljard.

Die gevolg hiervan is dat die dorpe die gevaar loop om eersdaags sonder krag te sit as die regering nie ingryp en die rekenings vereffen nie.

In Oos-Transvaal het die skuld opgeloop tot bykans R500 miljoen, in die Vrystaat is dit sowat R460 miljoen en in Sentraal Transvaal R160 miljoen

Van die bedrae is reeds maande lank agterstallig, en munisipaliteite gaan veroorsaak dat talle dorpe in die land sonder krag sit as die sentrale regering nie gaan ingryp nie.

Ingeligte waarnemers sê die regering sal maatreëls in plek moet kry om die geld weer in te vorder van munisipaliteite wat vir die chaotiese toestand verantwoordelik is.

Terwyl Eskom self sukkel om genoeg krag op te wek vir die land se steeds stygende vraag na elektrisiteit, is daar ’n “noodplan” opgestel vir moontlike beurtkrag.

Waarnemers is egter van oordeel dat Eskom genoeg krag lewer, maar dat plakkerskampe en sekere swart woongebiede so baie krag steel, dat daar nooit genoeg krag opgewek kan word nie.

Die land behoort ’n polisieafdeling te vestig wat konsentreer op kragdiewe en hulle swaar strawwe oplê om die euwel te bekamp, is gesê.