Motor rubriek – Volvo V40 D3 Elite AT

Volvo wat afkomstig is uit Swede het deur die jare ’n geskiedenis van betroubaarheid opgebou wat menige motor entoesias met genoegdoening laat terug dink aan sy of haar persoonlike ervaring. Volvo is veral beken vir sy ingeboude “veiligheid” toerusting. Selfs in die dae van die bekende B18 was Volvo bekend daarvoor.

Die D3 Elite is met nog meer veiligheidstoerusting toegerus en die potensiële koper het ’n wye verskeidenheid van toerusting beskikbaar waaruit daar ’n keuse uitgeoefen kan word. Die jongste toevoeging is toerusting ter beskerming van die voetganger deurmiddel van ’n lugsak.

Voorsiening is gemaak vir die “blinde-kol” probleem wat in ’n motor mag voorkom wat kan lei tot moontlike botsings. Volvo plaas ’n baie hoë premie op die veiligheid van insittendes sowel as voetgangers.

Ongelukkig kry Volvo nie die erkenning wat dit verdien nie want in die segment is daar die bekende Duitse motors wat die kollig op hulle vestig maar die eienaars van Volvo motors kan met reg daarop aanspraak maak dat hulle die eienaar is van ’n motor met hoë kwaliteit profiel.

In die Sport Nuts Voertuig segment beskik dit oor ’n uitstaande bouvorm en staan dit uit in ’n parkeerruimte.

Binne en buite afwerking is van hoogstaande gehalte en voorsien luukshede soos die voorste sitplekke wat deurmiddel van ’n kragstelsel vorentoe en agter toe geskuif kan word.

Die instrumentpaneel word verlig met ’n sagte blou agtergrond en selfs die rathefboom is verlig.

Die hoofligte beskik oor ’n eie skoonmaak toerusting om te verseker dat die beligting van hoë standaard is.

’n 2,0 liter, vyf silinder turbodiesel kragbron is gepas en dit voorsien bruikbare wringkrag van 350 Nm van so laag as 1500 o.p.m. Tesame met 110 kW stel dit die voertuig instaat om van 0 tot 100 km/u te versnel in 9,60 sekondes.  Brandstofverbruik is ’n bruikbare 6,5 liters/100km (soos getoets deur CAR) wanneer die voertuig met sorg bestuur word.

Skyfremme is op al die wiele gepas met geventileerde skywe op die voorwiele en soliede skywe op die agterwiele. Die ABS stelsel verseker dat die remvermoë van die voertuig van hoogstaande gehalte is.

Teen ’n prys van R375,200 is dit nie ’n goedkoop voertuig nie maar u kan gerus u naaste Volvo handelaar gaan besoek en die Volvo V40 Cross Country D3 Elite neem vir ’n toetsrit en die gemak van ’n sesspoed outomatiese ratkas gaan ervaar.