Motor rubriek – Infiniti EX37 GT

Die Infiniti EX37 GT van Nissan is die antwoord op die Duits vervaardigde sport nutsvoertuie soos die BMW X3 en die Audi Q5. Nissan het die luukse motorveld betree met die oog daarop om in die veld te kompeteer en dit staan nie terug vir die Duitsers nie.

Die eerste Infiniti het die Suid-Afrika gedurende 1996 bereik en het bekend gestaan as die Q45 en hierdie voertuig het die nodige luukshede bevat en die afwerking was van so aard dat dit ’n gewilde voertuig geword het.

Die nuutste model met sy permanente vierwiel aandrywing se padgedrag is van die hoogste gehalte en alhoewel dit nie ’n voertuig is wat elke dag as ’n veldry voertuig gebruik gaan word nie, is dit tog daar toe instaat indien so benodig word.

Van buite gesien skep dit die indruk van luuksheid en is die ooreenstemmende lyne van die FX model, duidelik sigbaar. Die geronde daklyne skep ’n sportiewe indruk en stem baie ooreen met ander voertuie in hierdie klas.

Die dubbel uitlaatpype en 19 duim wiele wat gebruik word, bevestig die sportiewe aard van die Infiniti. Die beskermstroke aan die onderkant van die voertuig is vervaardig van swart plastiek en dit beklemtoon die afwerking aan die buitekant.

Binne afwerking is van hoogstaande gehalte en bestaan uit leerbekleedsel, sagte plastiek toerusting en hout afwerking op verskeie plekke. Die sitplekke het hoogte verstellings en dit verseker dat die uitsig na buite onbelemmerd is. Dieselfde skakelaars wat op die instrumentpaneel gepas is, is ook op die stuurwiel gepas en vergemaklik dus die beheer van die voertuig. Lugversorging is standaard en ’n lang lys van ander luukshede, is geïnstalleer.

Dieselfde enjin wat in die 370Z gebruik word,  is in die EX37 GT gepas en alhoewel dit bietjie “dorstig” is wanneer die regter voet swaar raak, voldoen dit aan die normale vereistes. 

Die maksimum wringkrag beskikbaar is 360 Nm @ 5200o.p.m. en wanneer benodig is daar 237 kW van die V6-enjin wat gebruik kan word. Versnelling van 0 tot 100km/u neem 7,08 sekondes en brandstof verbruik is 12,2 liter/100km.(syfers verskaf deur die vervaardiger)

Skyfremme is op die voorwiele gepas en dromme op die agterwiele. Die ABS remstelsel verseker dat die remvermoë voldoen aan die vereistes en dit neem 3 sekondes om van 0 tot 100km/ tot stilstand te kom.

Alhoewel dit ’n redelike onbekende vervaardiger is, kan motor entoesiaste gerus u naaste verspreider gaan besoek en u vergewis van die moontlikhede van hierdie voertuig.