Motor rubriek – Ford Ecosport 1.5TDCI

Ford produkte is sekerlik een van die bekendste name in Suid-Afrika.

Van die vroegste dae af was jy of ’n Ford of ’n Chev. man. Op skool het ’n mens selfs handgemeen geraak daaroor.

Tot onlangs was Ford nie baie bekend daarvoor dat hulle gebruik maak van die nuutste elektroniese tegnologie nie. Deesdae is hulle van die vervaardigers wat op die voorpunt is van die tegnologie en is dit ’n feit dat hulle sukses daarmee behaal.

Deur gebruik te maak van ’n turbo-aanjaer en die nuutste tegnologie, het Ford daarin geslaag om uit ’n 1.5 liter enjin dieselfde werkverrigting en selfs nog beter te verkry, as uit ’n 2.0 liter enjin.

’n Voorbeeld hiervan is die Ford Ecosport 1.5 TDCI wat nou verkrygbaar is.

Hierdie viersilinder Ecoboost diesel enjin is in staat tot groot hoogtes. Die indruk kan gewek word dat dit moontlik “lui” gaan wees, maar dit is alles behalwe. Op papier mag 66kW nie indrukwekkend lyk nie maar dit kwyt  homself baie goed van sy taak.

Die 205 Nm wringkrag is beskikbaar tot by 2700 o.p.m.

Dit is wanneer die voertuig op die pad geneem word dat die ware kleure na vore kom.

Met 200mm grondvry hoogte kan dit met gemak op selfs van die rofste paaie gebruik word. Die binneruim is inderdaad ruim en met ’n laairuimte van 362 liters kan daar baie bagasie gelaai word.

Wanneer die sitplek leunings neergelaat  word, vermeerder die ruimte na 700 liter.

Die binne afwerking en toerusting is soortgelyk aan die van die Fiësta en sluit ’n lugversorger in en nog talle ander handige stukke toerusting.

Veiligheid is ’n  belangrike aspek en dit is nie agterweë gelaat nie. Skyfremme word gebruik en is baie effektief.

Hierdie is ’n aantreklike voertuig wat maklik in klein parkeer ruimtes in pas en die Trend verkoop teen R229,000.