Moordenaar-bestuurder meer bekommerd oor kar

Die man wat na bewering in 2011 vyf drawwers in die noorde van Johannesburg doodgery het, het glo dadelik ná die botsing uit sy Mercedes-Benz geklim en na die voorkant daarvan gekyk.

Hy het glo daarna teruggeklim in die motor en tevergeefs probeer om dit weer aan die gang te kry.

Die besonderhede het na vore gekom uit getuienis wat in die hooggeregshof in Pretoria gelewer is in die verhoor van Sibusiso Langa, ’n meganiese ingenieur.

Langa, het skuld ontken op agt aanklagte, waaronder vyf van moord en een van poging tot moord.

Die staat beweer Langa het die bedoeling gehad om vyf drawwers op 22 Oktober 2011 in Leverweg, Country View, dood te ry en ’n sesde een te probeer doodry.

Die staat sê Langa het gedrink terwyl hy geweet het dit sal sy oordeel aantas. Hy het sy Mercedes-Benz ML 500 bestuur terwyl hy glo onder die invloed van drank was.

Johannes van Loggerenberg, ’n ongeluk-ondersoeker van die Johannesburgse metropolisie, het getuig Langa se oë was bloedbelope, “baie slaperig” en sy asem het sterk na drank geruik.

Daar was ’n leë bottel Hunter’s Gold in die motor.

Foto – Langa se Mercedes