Misdaad styg steeds

Die getal verkragtings het nie afgeneem nie, mense meld dit net minder aan.

So het Lisa Vetten, ’n onafhanklike navorser, by die Instituut vir Sekerheidstudie (ISS) se seminaar oor misdaadstatistieke in Pretoria gesê.

In die afgelope drie jaar het die polisie 1,500 reeksverkragters in die land geïdentifiseer.

Suid-Afrika is volgens haar een van die lande met die meeste reeksverkragters ter wêreld.

Vetten het gesê die polisie se getalle wys die getal seksuele misdade het van 2003-’04 tot 2012-’13 met 45,3% afgeneem.

“Dit is kommerwekkend. Dit beteken nie die misdade kom al hoe minder voor nie. Dit beteken net al hoe minder mense gaan meld dit aan.”

Sy het daarop gewys dat prostitusie ook as ’n seksuele misdaad beskou word.

Die polisie fokus eerder op prostitusie en om dit te laat afneem en dus lyk die statistieke beter, meen Vetten.

Daar is 59 soorte seksuele misdade. Dié misdade het volgens die ISS in die laaste boekjaar met 1,5% toegeneem en volgens die polisie met 0,4% afgeneem.

In 2009 is 1 uit elke 12 vroue verkrag. Slegs een uit elke 13 vroue wat deur ’n vreemdeling verkrag is, het dit gaan aanmeld. Een uit elke 25 vroue wat deur hul mans of kêrels verkrag is, het dit by die polisie gaan aanmeld.

Vetten het gesê jonger meisies is meer daartoe geneig om verkragting aan te meld as ouer vroue.

Die ouer vroue sien uit ervaring niks gebeur nadat die saak aangemeld is nie.

Waarnemers meen dis propaganda praatjies van die Regering om te beweer dat misdaad daal.

Lees ook die berig van Die Vryburger: Misdaad styg – statistieke bevraagteken.

Foto – Lisa Vetten