Man ry student dood, een beseer

Adriaan Botha (21), die seun van ’n skoolhoof in Johannesburg, is in hegtenis geneem nadat hy na bewering ’n swart student dood gery het, en ’n ander een ernstig beseer het.

Adriaan word aanspreeklik gehou vir die dood van Lebogang Dichabe, ’n student verbonde aan die Universiteit van Johannesburg.

Dichabe is op die toneel dood verklaar en die ander student, wie se naam nie bekend is nie, is in ’n kritieke toestand in die Helen Joseph-hospitaal opgeneem.

Mev. Olive Botha, die ma van Adriaan, sê sy is jammer oor wat gebeur het, en sy weet dit was ’n blote menslike ongeluk, want haar seun is saggeaard en sou nie so iets doelbewus doen nie.

Polisiewoordvoerder, Lorraine van Emmerik, sê Adriaan het oor ’n rooi verkeerslig gery toe die ongeluk plaasgevind het, en het glo weggejaag van die polisie.

Hy is in polisie-aanhouding.