Linkse onbetroubaarheid

Die linkses en die regime is in ’n hewige mededinging betrokke vir die 2014 verkiesing, en die een wil beter doen as die ander om kiesers te beïndruk.

Alhoewel die Zille-vrou blykbaar nog nie weer haar belaglike danspassies op TV uitgevoer het nie, bly sy in die nuus met haar misleiding as nuutste truuk om ’n verleentheid van swak leierskap te verberg.

Die pogings is soos om die ou taktiek van Eva te gebruik – sy was mislei! Nou wonder ’n mens wie die slang is!

Die werklike situasie is tog eenvoudig. Jy het ’n beleid in die party, wat ook die sogenaamde “rasse aangeleenthede” duidelik uitstippel sodat elke pampoen in die parlement sal weet wat daardie beleid is.

Behalwe as dit gaan soos die Progressiewe Party van wyle Helen vir baie dekades gemaak het – as jy ’n standpunt het, is ook haar standpunt.

Dieselfde siening het reeds ’n tyd gelede duidelik geword toe die nuwe Helen van die nuwe Progs, in Pretoria ’n kampvegter was vir die behoud van straatname, maar toe sy weer in Kaapstad kom, toe is sy ten gunste van naamsveranderings.

Om die saam te vat – Zille is ’n manteldraaier – eers steun hulle die wet oor rassekwotas, maar toe Tony haar daarop wys dat sy ’n tweede ANC is, toe gooi sy die mantel na die anderkant.

Dit is interessant dat Tony Leon die ANC en die Zille party as ewe onbetroubaar bestempel het!

Wie vertrou so ’n party met jou, en jou kinders se toekoms?