Leier van "Wit Brandwag" gevonnis

Mark Trollip, die selfverklaarde leier van die sogenaamde “Wit Brandwag”, wat in Desember 2012 die ANC leierskorps wou uitwis in Bloemfontein, is tot agt jaar hardepad gevonnis vir dade van terrorisme.

Die hof moes hoor dat lede van dié organisasie regoor die land sou opruk na Bloemfontein vir die beplande slagting.

Dit sou na bewering gedoen word met mortiere, gewere, handgranate, en ’n G6-kanon met ondersteuning deur drie Cessna-vliegtuie.

Trollip het ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan.

Johan Prinsloo (50), ’n medebeskuldigde van Springs, wat nie ’n pleitooreenkoms as aanbod van die staat wou aanvaar nie, se verhoor sal op 27 Januarie volgende jaar plaasvind.

Trollip beweer dat mortiere vanaf Naval Hill gevuur sou word en “recces” sou ingestorm het met geweervuur op die oorlewendes. Kragsentrales asook die lughawe sou met mortiere aangeval word.

Die sogenaamde “Suidlanders” sou glo vanaf Prieska ’n inval doen.

Trollip het met ongekontroleerde gegewens die hele aanval probeer skilder aan die hof, en ook gesê die beplanning het gepaard gegaan met onrealistiese grootpratery.

Die bestaan van die twee bataljons, die gebruik van n G6-kanon, Cessna-vliegtuie en ander toerusting vir die inval kon nie bevestig word nie.

Die planne het nêrens werklikheid geword nie, en geen wapens het Bloemfontein bereik wat vir die aanval nodig was nie.

Trollip toon glo opregte berou vir sy optrede en spreek ook onvoorwaardelik sy aanvaarding uit van die regering en leiers van die land.